Hy het teruggekom. Die een wat die blomme op haar kar gelos het. En hierdie keer het hy nie gekom om iets te bring nie, hy het gekom om iets te vat.
Vir haar.
En nou word Claire Winters iewers in ’n sel van sement gevange gehou. Eers plaas sy haar hoop op haar speurderbroer. Hy weet wie die man is wat haar ontvoer het. Maar nog ’n lang, donker dag eindig met ’n toebroodjie en ’n glas water en Derek kom nie. Claire besef hierdie keer sal sy haarself moet red. Voordat haar verstand heeltemal in die swart van die kelder oplos.
Die enigste uitweg is deur haar ontvoerder. Want hy het die kelder se sleutel. Maar net toe sy dink sy begin vordering maak, vind Claire uit waarvoor sy regtig aangehou word.
’n Ou kragstasie waar treine steenkool afgelaai het. Donker tonnels vol spinnedrade daaronder. ’n Vervalle plaashuis. ’n Verlate steengroef. ’n Eksperiment met vals naels. En nog een met pepersproei (wat ek nie sal aanbeveel nie, al het dit vir ’n baie akkurate beskrywing gesorg). Ek het minder met lede van die polisie gepraat en meer met ontkleedansers. Ja, die navorsing vir Swartval was ’n bietjie anders.
“Ek gaan nie weer iets opgee oor ’n man nie.”
Claire Winters het haar droom en aardse besittings in haar Taz gepak en van Robertson af Kaap toe gery, en voor haar broer Derek (Skuldig) se deur in Bellville stilgehou. Dit was haar eerste daadwerklike tree om die wêreld te sien, om saam met die pienk dolfyne in die Amasone te swem, om op te klim tot by Machu Picchu. Sy kry werk by Col’Cacchio en begin spaar. ’n Ander kelnerin vertel haar hoeveel geld sy by Teazers gemaak het. Eers dink Claire dis ’n absurde idee, maar toe gaan sy saam met Yolande Teazers toe en praat met die dansers en skielik lyk haar droom baie meer bereikbaar. Sy besluit om die kans te waag en raak stadig gewoond aan hierdie wêreld. Tot iemand begin om swart blomme onder haar ruitveër te los …
“Want ek wil hulle vat en hulle hê en hulle seermaak.”
Eers los die bekruiper een rooi blom onder Claire se ruitveër. Toe ’n dooie een. Toe drie swart blomme. Die sesde keer kom hy met ’n mes …
Martin Steyn se derde krimi is ongetwyfeld die vreesaanjaendste, spannendste riller uit die korpus van Suid-Afrikaanse misdaadfiksie wat in 2016 uitgereik is.
Jonathan Amid, Rapport
Steyn voer ’n kragtoer uit deur in die prooi se kop te klim.
Ronel Nel, rooi rose
Ek hou nie eens van sielkundige rillers nie, maar ek het dié roman verslind omdat die verhaal met soveel vaart bly voortsnel en omdat die karakters al veelkantiger raak.
Willie Burger, Vrouekeur
Ja! Daar is ’n uittreksel op my webwerf.
No posts

Comments
Nothing yet. Say the first thing.
Sign in to join the conversation.