As die dood onverwags en gewelddadig kom, is dit regtig beter om vinnig, sonder lyding saam te gaan? Het die meeste mense nie daardie oomblikke nodig om te bely en vergifnis te vra nie?
’n Middeljarige tandarts, tereggestel in sy sitkamer. Teen die muur, een woord. In bloed. Adjudant Colin Menck kyk na die “skoon” toneel en is oortuig dis ’n professionele moordenaar se werk.
Wie het hom gehuur? Die hoofverdagte is die slagoffer se vrou, wat net te onemosioneel oor die moord is. Maar wat het hy gedoen om so ’n dood te verdien?
Minder as ’n week later staan Menck weer voor ’n muur met sewe bloederige letters. Hoeveel name is op hierdie moordenaar se lys? Hoeveel mans gaan nog SKULDIG in hulle eie bloed skryf?
Skuldig is die gevolg van een van daardie rare oomblikke waar ’n storie net vanself in my kop oopvou (gewoonlik kry ek meer direkte inspirasie uit iets wat oor my pad kom). Ek het hierdie man gesien wat hard asemhaal en iets teen ’n muur skryf—SKULDIG—in sy eie bloed, en toe kniel met ’n pistool wat op sy kop rig.
Die koeëls in die slagoffers se koppe is natuurlik belangrik om die soort vuurwapen te identifiseer, vas te stel of dit uit dieselfde wapen gekom het, en te vergelyk met enige vuurwapens wat in verdagtes se besit gekry word. Dus was ek terug by die forensiese patoloë. Ek het ook kontak met die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Ballistiekafdeling gemaak en die voorreg gehad om die Forensiese Wetenskaplaboratorium te besoek. Dit was baie interessant om te sien waar die wapen in water geskiet word sodat ’n koeël met daardie wapen se unieke merke in die Integrated Ballistic Identification System geskandeer kan word vir ontleding.
“Die hele ding is net te netjies, te klinies.”
AO Colin Menck bevind homself in ’n nuwe rol, dié van die seniorvennoot, nadat hy jare lank saam met die ouer AO Jan Magson (Donker Spoor) gewerk het. Langs hom sit die veel jonger Derek Winters, ’n aanpassing waarmee hy nog sukkel. Bo hom is die nuwe groepleier, die ambisieuse kaptein Fundile Lubambo, wat ’n baie ander benadering as sy voorganger volg. En voor hom is ’n tweede muur waarop ’n middeljarige man SKULDIG in sy eie bloed geskryf het voordat hy tereggestel is. Wat beteken hy moet vinnig uitvind wat die konneksie tussen hierdie twee slagoffers is as hy nie voor nog ’n muur wil staan nie.
“Dink jy mens word goed gebore? Of moet iemand jou leer?”
AO Derek Winters is van die Robertson-speurtak na die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid oorgeplaas. Jonk en nuut, wil hy homself bewys in die spesialiseenheid waar hy so graag wou wees. En nie die verkeerde soort aandag trek nie. Winters is ongetroud en bly saam met sy jonger suster, Claire.
Skuldig is die soort boek wat maak dat mens alles opsy skuif om te lees.
Ilse Salzwedel, Maroela Media
Skuldig is met tye ’n genadeloos intense roman wat die leser se morele kompas stuk vir stuk aftakel.
Jonathan Amid, LitNet
Die deernis waarmee Steyn sy karakters uitbeeld en die helder beeld wat hy skep van die omgewing en die misdade verseker dat ek beslis in die toekoms leestyd sal afstaan aan sy speurtogte.
Coenraad Walters, Die Burger
Ja! Daar is ’n uittreksel uit hoofstuk een op my webwerf.
No posts

Comments
Nothing yet. Say the first thing.
Sign in to join the conversation.