RSS Amplifier

One bloody word at a time · Jul 29, 2026

Losprys

0
Sign in to vote or save

Martin Steyn · One bloody word at a time

Die wêreld is nie meer ’n goeie plek nie. Dis maar net hoe dit is.

“Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie. Ek sal weer bel.”

Adjudant Enzo Ariefdien verkies moorde. Dooie slagoffers. Hy wil nie ’n vermiste lewe in sy hande vashou nie, nog minder ’n kind s’n. Maar dis presies wat hy kry en dis boonop ’n ontvoering vir ’n losprys. ’n Hoëprofielsaak met die desperate Amerikaanse ouers aan die een kant en die ambisieuse kaptein Lubambo aan die ander. En almal wil resultate hê.

Intussen trek die onderhandelingspan by die gesin se huis in Llandudno in, adjudant Karla Blanckenberg in die rol van primêre onderhandelaar. Uitgelewer aan die ontvoerders se skedule om kontak te maak—en te verbreek—kan sy net wag en dis dan wanneer die handjie met die rooi gaatjie haar bly teister.

Die ontvoerders het duidelik die gesin se roetine geken. Maar is die gesin van buite dopgehou? Of van binne? En hoekom klink dit asof daar iets meer persoonliks agter die ontvoering skuil?

Ek het toevallig ’n afgetrede gyselaaronderhandelaar ontmoet en dit was onweerstaanbaar om nie die geleentheid uit te buit nie. Dis ’n fassinerende proses, onderhandeling met ’n persoon wat iemand gyselaar hou of homself met ’n wapen in ’n gebou toemaak en weier om uit te kom. ’n Misdaad in Kaapstad ’n klompie jare tevore het by my opgekom en die inspirasie gegee vir die gesin wat in Losprys geteiken word. Boonop het ek al voorheen met een van die speurders gepraat wat die saak ondersoek het.

Twee karaktervolle plekke in die Kaap het as agtergrond gedien: Houtbaai en Llandudno, waar die gesin se herehuis is, en Mitchells Plain, waar my nuwe speurder vandaan kom. Ek hou daarvan om na die plekke toe te gaan waar my stories afspeel, nie net omdat dit help om ’n plek te verstaan wanneer jy daar loop en die lug ruik en die geluide hoor nie, maar ook omdat daar gereeld storielyne daaruit spruit (ook vir ander stories, soos ’n paar kortverhale wat later in Skimme en Spoorsoekers verskyn het).

“Ek wil graag help om die situasie op te los.”

AO Karla Blanckenberg is die primêre onderhandelaar by die Gordon-toneel, die een wat direk met die ontvoerder praat. Maar dat die gyselaar ’n kind is, krap die rowe van ’n onlangse toneel af en sny uiteindelik veel dieper tot in haar eie kinderdae. Boonop kan sy nie soos by die tipiese onderhandelingstoneel kontak maak nie; die ontvoerder besluit wanneer hy wil bel en druk die foon dood wanneer hy nie verder wil praat nie.

“’n Moordspeurder is wat ek nog altyd wou gewees het.”

AO Enzo Ariefdien het as tienerseun ’n fassinasie met moordspeurders ontwikkel toe hy in Mitchells Plain die speurders dopgehou het terwyl hulle die Stasiemoordenaar ondersoek. ’n Seun wat ontvoer is, en dit nog vir ’n losprys, is nie die soort dossier wat hy wil hê nie. Sy kollega, sersant Fikiswa Zaphalala, daarenteen, is heel opgewonde om vir ’n verandering ’n slagoffer te hê wat nog lewe, en steeds kan lewe wanneer die dossier afgehandel word.

Losprys verteenwoordig ’n nuwe hoogtepunt in die skrywer se oeuvre.

Jonathan Amid, Rapport

Met elke boek groei sy karakters. Volronde, geloofwaardige mense.

Ronel Nel, rooi rose

Hierdie boek byt en hy klou—jy word meegesleur met die spannende jagtog, die ontrafeling tot op die klimaks en ontknoping.

Samantha Buitendach, LitNet

Ja! Daar is ’n uittreksel uit hoofstuk een op my webwerf.

No posts

Read the original on martinsteyn.substack.com

Comments

Nothing yet. Say the first thing.

    Sign in to join the conversation.