RSS Amplifier

One bloody word at a time · Jul 29, 2026

Donker Water

0
Sign in to vote or save

Martin Steyn · One bloody word at a time

“Dis donker. Dis koud. Jy’s alleen. En dis wanneer jy twyfel.”

Ná drie jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens is konstabel Alex Steytler gewoond aan die roetine van douvoordag opstaan, inry Kaap toe, op ’n trein klim en twaalf ure lank trokke of stasies patrolleer. Die lelike kant van die lewe is waar hy werk, anders as Tasha in die woonstel langsaan wat haar kamera op die mooi fokus.

Maar nou het sy vriend en medebeampte hom by nog iets ingesleep, en hierdie keer is dit nie so eenvoudig soos ’n motorfiets koop nie. Nee, Pyper wil by die Duikeenheid aansluit, want treintrappe, tikkoppe en messtekers bied klaarblyklik nie genoeg opwinding nie. En nou staan Steytler tot by sy naeltjie in ’n rivier vol riool op soek na die slagoffer van ’n boendoehof.

Dis net die begin. Om lede van die Duikeenheid te word, sal hulle behoorlik aan die diep kant ingegooi word. Toe Steytler vroeg in die jaar tussen die stukke van ’n treintrapslagoffer gestaan het, kon hy nie weet dat hy teen die einde sy eie stukke sal moet bymekaar maak, of moontlik dele van homself vir ewig verloor nie.

“Hierdie tou is jou lifeline. Jy los hom nie.” Want in donker water is dit al hoe jy jou pad terug kan vind.

Ek het eintlik net met ’n polisieduiker gaan praat vir ’n spesifieke toneel, maar toe vat hy my ná die onderhoud na die stoor toe om hulle bote en toerusting te gaan wys, en van die ander duikers kom sluit by ons aan en begin stories vertel. Oor verstrengel raak in vistoue onder ’n boot, liggame in rioolwater, insidente met haaie, storms op see. Polisieduikers duik nie op mooi plekke nie. Inteendeel. Hulle duik gereeld in donker water, waar daar swak of geen sig is nie, waar hulle hande die soekwerk doen, waar hulle in enigiets kan vasswem, aan enigiets kan vashaak, waar ’n tou na ’n ander duiker op die wal of ’n boot hulle enigste vorm van kommunikasie is wanneer iets verkeerd gaan, in water waarin ’n persoon onlangs dood is. Hulle stories het my só aangegryp dat ek gevoel het ek moet dit vertel.

“Water is nie ’n dooie mens se vriend nie.”

Konstabel Alex Steytler het by die polisie aangesluit omdat dit die beste opsie was waaraan hy kon dink. Sy oom is ’n brandweerman, maar om na vlamme toe te hardloop, maak nie vir hom sin nie. Eerder die treine op die Kaapse Vlakte as lid van die Rapid Rail-eenheid patroleer, ten spyte van al die karakters wat dit as ’n jagveld vir prooi sien.

“Ek weet nie hoe jy geleef het voor jy my ontmoet het nie.”

Konstabel Marcel Pyper is ook ’n lid van Rapid Rail. Van nature avontuurlustig, het hy in Steytler ’n meeloper gevind om by sy belangstellings en aktiwiteite in te sleep, alles van motorfietspretritte tot duikkursusse. Maar sy eintlike doelstelling is om by die Duikeenheid aan te sluit. En Steytler moet saamkom.

Ek was meegevoer deur die storie van twee vriende, twee verskillende lewensuitkyke en een besluit wat alles vir altyd verander.

Erla Diedericks, LitNet

Wat die roman laat voortstu en onneersitbaar maak, is die dinamika tussen karakters, die manier waarop Steytler mettertyd, in vuil water, op soek na liggame en wapens, homself ontdek.

Deborah Steinmair, Vrye Weekblad

Hierdie roman het my onkant gevang omdat dit geensins ’n geykte resep volg nie.

Francois Bekker, Penguin Post

Ja! Daar is ’n uittreksel op my webwerf.

No posts

Read the original on martinsteyn.substack.com

Comments

Nothing yet. Say the first thing.

    Sign in to join the conversation.