RSS Amplifier

One bloody word at a time · Aug 18, 2026

“SAPS negotiators.”

0
Sign in to vote or save

Martin Steyn · One bloody word at a time

Sy moet mooi trap: Tot hulle weet presies hoekom hy vandag hier is, kan elke woord wat sy sê ’n sneller wees.

Hallo, en welkom by my nuusbrief.

In die vorige nuusbrief het ek jou vertel waaroor Blinde Kol gaan. Nadat die jong man sy pad by die die dameskoshuis ingeskiet het, kordoneer die polisie die gebou af en maak kontak. Maar hy weier om met hulle te praat: “Ek wil nie met jou praat nie, ek wil met Karla praat.”

“Ek wil nie hê jy moet nog iemand doodmaak nie, nie een van die meisies nie en ook nie jouself nie.”

AO Karla Blanckenberg weet nie hoekom die jong man met haar wil praat nie; sy herken hom nie. Maar iewers in die verlede moet daar ’n konneksie wees. Terwyl sy die oorfone op haar kop skuif, weet sy sy moet versigtig wees: Die liggame by die ingang bewys dat hy kan—en sal—doodmaak.

Blanckenberg het voorheen in Losprys verskyn. Daardie saak het sy tol op haar geëis en heelwat lesers het oor die jare gevra wat verder met haar gebeur het. Sy was intussen in ’n kortverhaal (“Man op ’n brug”) in Skimme en Spoorsoekers, maar in Blinde Kol vind ons regtig uit wat deesdae in haar lewe aangaan.

“Probleem is ons het niks wat hy wil hê nie. Hy het die girls by hom. Hy kan hulle skiet net wanneer hy wil.”

AO Jock Ruhling is die sekondêre onderhandelaar wat saam met Blanckenberg in die NOC—die Negotiation Operational Centre—sit terwyl sy met die jong man praat. Hy help met strategieë en ondersteuning, en skakel met die res van die onderhandelingspan.

“Ons weet nie hoekom hy hier is nie. Heel eerste moet ons uitvind of hy gyselaars by hom het.” Ruhling skeur A2-velle af en knyp dit teen die binneruim vas. “En dan moet ons uitvind wat sy doel met hulle is. Is hulle hostages of nonhostages?”

“Ek sal hostages nogal verkies. Dan sal hy substantive demands hê en spesifiek gyselaars gevat het omdat hulle waarde het en hom sal help om te kry wat hy wil hê.” Dan is sy doel nie om hulle dood te maak nie. Ook nie om self dood te gaan nie. “Dis seker nie onmoontlik nie, maar …”

“Hy is veel eerder hier as gevolg van woede en hulle is eintlik kidnap victims. Kan revenge wees oor ’n verhouding wat nie uitgewerk het nie en hy’s eintlik op ’n suicide mission. Kan woede teenoor ’n spesifieke meisie in die koshuis wees wat nie met hom wil praat nie.”

Blanckenberg sien weer hoe hy die pistool op die gewonde meisie rig. “Ek dink as ’n spesifieke persoon sy teiken was, sou hy nie daardie meisie in die parkeerarea so in die kop geskiet het nie. Hy sou eerder dadelik ’n student forseer het om die deur oop te maak.”

Ruhling knik. “Wat jammer is, want dit sou ’n beter scenario gewees het.” Hy skryf SUB in blou op die een vel. “Hy kan ’n psycho wees en dan gaan ons nie ver kom met active listening nie.”

Nee, dan gebruik hulle ’n heel ander reëlboek. Sy druk haar oorfone se draad in die sok wat PRIM gemerk is.

“Of hy kan ’n properse ses-vier wees en een of ander delusion het hom hiernatoe gebring. Of ’n stem in sy kop het vir hom gesê om te kom.”

Blanckenberg druk die ander oorfone by SEC in en gee dit aan vir Ruhling. “Ek kan nie sê ek is mal oor jou opsies nie.”

In die volgende nuusbrief vertel ek jou ’n bietjie meer oor nog ’n karakter se terugkeer: AO Colin Menck van Donker Spoor, Skuldig en die novelle “Koue Bloed” in Skimme en Spoorsoekers.

Dankie dat jy gelees het.

m.s.

No posts

Read the original on martinsteyn.substack.com

Comments

Nothing yet. Say the first thing.

    Sign in to join the conversation.